Ek worstel al lank met die hierdie in my hart, om maar net my storie met ander te deel. Nie dat my storie enigsins uniek sal wees nie! Maar in ‘n see van emosies waarin dit vir my voel ek kort-kort wil verdrink, is daar dalk iemand wat ook net ‘n reddingsboei nodig het, en wat sal verstaan wat in my binneste woed.
Ek is geensins ‘n skrywer nie, en gaan hierdie net verwoord soos dit uit my hart kom, “the real deal”. Niemand maar niemand dink ek, kan enige kind, of kinders, voorberei vir hierdie pad en wat op jou wag nie! ‘n Dief wat jou eens bekende en geliefde ouer onder jou oë kom steel. Daar is ongelukkig nie ‘n manier dat die skelm ooit agter tralies gaan beland, of gaan boet met ‘n regverdige verhoor, wat ek voel dit verdien! Die dief gaan maar net weer by iemand anders se geliefde inbreek!
Vir my voel dit ek het ‘n “front row seat” op ‘n roller coaster gekry, iets waarvoor ek definitief nie sou betaal nie, en ook nie geboek het nie! Dit voel soms onregverdig, en ek vang myself telke male dat ek vra, wat is die rede Here, dat ons kinders hierdie rit moet mee maak? Ek glo met my hele mens wees dat die Here altyd ‘n doel het met alles in ons lewe, en hiermee sal ook ‘n doel wees, maar vandag moet die Here my asseblief maar net dra, want die rit was rowwer as wat ek verwag het, my bene voel net lam!
Vroegoggend oproep wat sê my pa het ‘n terugslag gehad. Mens weet mos as jou foon vroeg lui, dan is dit nie die lotto kantoor wat bel en sê jy is ons nuutste wenner nie! Verward spring ek uit my bed, druk myself deur die stort, om net in die kar te kom, om by my pa uit te kom. Emosies stoei in my binneste terwyl ons ry. Die vrees terwyl ons oppad is, wat gaan ek kry as ek daar instap, gaan ek sterk genoeg wees om dit te kan hanteer? Ek probeer myself voorberei op die pad, maar die half uur tot daar, voel soos ‘n ewigheid. Ek weet nie of ek moet dankbaar wees dat dit so lank voel nie, want dan hoef ek nie my realiteit te gaan “face” nie. Persoonlik dink ek verkies ek dat die minute stadiger omgaan, dit gee my tyd om die klipmuur om my hart nog te versterk, die muur wat veronderstel is om my te moet help om my menswees net nog effe te beskerm. Eerder as die muur wat maar in die verlede om geval het op my, gelaat het met emosionele seerplekke, en laat sukkel om op te staan.
Ons stop voor sy versorgingsoord, en angs val my binneste aan, maar ek besef ek moet hier in! In sy kamer lê hy in sy bed, waar hy ook al die afgelope ses maande gevonnis is tot bedleênd. Sy oë is groot oop, ek sien die vrees in sy twee baie bekende oë. Ek weet nie of hy self verstaan wat gebeur het nie. Hy kan dit ook nie verwoord nie, want daardie selfde dief, het al ‘n tyd gelede sy woordeskat ook begin steel! My hart wil breek, want wat beleef hy, hoe voel hy oor wat met hom gebeur het, wat maak hy met al sy emosies!
Ek praat met hom, en ek glo dat hy weet ek pas nog iewers in sy of my, vreemde wêreld! Dat hy nie meer weet ek is sy kind nie, dit seker die een hou in die maag, wat jou asem vir jou so hard uitslaan jy kry na jare nog nie jou asem terug nie! ‘n Hou wat jy as kind verkies, om dalk maar nie te wil sien kom nie! Sy oë vorm trane in die hoekies as ek praat. Ek weet nie of dit die reaksie op sy eie angs is nie, of dit dalk net is dat my stem en gesig dalk net nog iewers ‘n bietjie vertroosting vir hom bring. Miskien weet hy dat daar iemand, wat vir hom oneindig lief is, langs hom is en voel hy my liefde en omgee aan.
Sy dokter sê hy vermoed hy het geskrik toe hulle hom probeer wakker maak het. Die skrik was so groot, dat sy bloeddruk op daardie stadium die hoogte in geskiet het, of so gedaal het, dat sy liggaam in skok ingegaan het. Hy het ‘n aanval gekry, die suster aan diens het gedink sy gaan hom verloor! Twintig minute later is alles normaal, sy bloeddruk baie goed, sy suurstof vlakke is goed, en sy dokter is baie tevrede! Ek dank die Vader my pa is ok, maar by my sit nog ‘n Alzheimer letsel! Hoe maak hulle hom in die toekoms wakker, sonder dat ons hom dalk hierdeur kan verloor? ”n Normale proses vir ons sonder Alzheimer, vir hom is dit nou ‘n gevaar!
My trane loop onwillekeurig oor nog ‘n nuwe Alzheimer vonnis! Hoe Here, hoe, bly ons as sy kinders, staande? Hoe stap ‘n mens hierdie pad, sonder om nie letsels vir ewig oor te hou nie? Hoe kry ‘n mens jouself weer heel gemaak? Ek probeer sterk wees, maar my voete gly, my wiele val af Here!
Ek weet iewers is daar iemand, wat al ‘n tree voor my in hierdie donker gang af gestap het, om maar goed te weet wat ‘n mens nog van hierdie onmenslike siekte kan verwag! Ek besef goed dat geen Alzheimer pasiënt se beker gelyk afgemeet is nie, dat elke een dalk ander simptome as my pa sal beleef. Maar hierdie is ons journey met Alzheimer, die hand kaarte wat vir ons as sy geliefdes, gedeel is.
Ek deel hierdie, want op ‘n manier vind ek vir die hartseer wat ek ervaar, ‘n uitlaat klep kry. Dalk lees iemand wat in my bootjie roei, hierdie raak, en weet dat jy nie alleen hierdie stille oorlog veg nie. Jy is nie die enigste een in ‘n diep see, waar dit voel jy dryf sonder ‘n eind bestemming! My troos vir nou : My lewensredder loop op water, en vir nou is dit al waaraan ek kan, en wil vasklou. Hierdie stormagtige see van Alzheimer branders, slaan my keer op keer om!